Herwinningsprojekte tydens Jokfees

Die JOKfees se herwinningsprojek, voorheen ook bekend as die Blikkiesbouprojek, met interessante strukture uit herwinde materiaal, is al vir jare  tydens ons JOKfees, ’n bekende en welkome gesig op die Florida-terrein. Hierdie jaar het ons weereens ons skool met besondere strukure versier!

Vir etlike maande was ons hele skool besig met hierdie Dink-Groen-projek waarby al die Florrie- huishoudings, wye familie- en vriendekringe betrek is. Die doelwit was om soveel as moontlik Florries meer bewus te maak van die waarde van die herwinning en die hergebruik van afval-materiaal. Die voorbereiding en bou van ‘n Fantasiewoud met die vier bome, een van elke seisoen, en die uitdink en fantasering rondom fantasiefigure om die bome te versier, was die motivering vir die insameling van al die herwinningsmateriaal.

Al die Florrie-ouers, -familie, en -vriende het wonderlik saamgewerk met die versamel, bêre en instuur van al die duisende plastiekproppies, -doppies, -sakke, blikkies en plastiekbottels. Ons grootste verwagtinge is oortref! Drie store is volgemaak en nog steeds het die materiaal ingestroom! Die klaskompetisie het ook baie geslaagd verloop, gesonde kompetisie is nog altyd goeie motivering. Individuele leerders het regtig ook meer as die gevraagde gedoen!

Die aand met die opening van die Fantasiewoud het fraai bosfeetjies en flink kabouters gewys hoe daar in so ‘n woud gedans en gewerk kan word!

Ons hoop dat die denke van ons Florries positief aangeraak is en dat die Dink-Groen leefwyse nou deel van ons leefstyl is!  Volgende jaar bou ons weer!

Elsabé Blignaut