Rugby

 

Besoek gerus ook www.skolerugby.co.za vir meer inligting wat dikwels Florries insluit.

 

Rugby

Suparugby - www.suparugby.com


FLORRIES EERSTES SORG VIR OPSKUDDING EN MAAK GESKIEDENIS

Hoërskool Florida se 1e rugbyspan het die byna onmoontlike vermag deur die span van Hoërskool Monument op sy tuisveld in 'n riller met 16 - 13 te klop.  Sodoende speel Florries eerskomende Saterdag op sy tuisveld teen Waterkloof / HTS Middelburg om die Beeldtrofee kampioen te bepaal.  Verder beteken dit dat al die finale wedstryde wat die o/14's, o/15's en o/16's betref ook by Hoërskool Florida plaasvind.  Vandag kan 22 helde en hul afrigtingspan breed glimlag - hulle het vriend en vyand geskok tot in hul fondamente!

Wat hierdie span vermag het het nog nie regtig deurgedring nie, maar een ding staan soos 'n paal bo water: die massa Florries op die paviljoen het vir eens en altyd gewys van watter stoffasie hierdie skool gemaak is.  Die span was die heeltyd bewus van hierdie geweldige ondersteuning onder leiding van die nuwe senior VLR - 'n klompie graad 11-leerlinge wat gehelp het om geskiedenis te maak.

Puntemakers: Tshepo Mooki - 'n ongelooflik beheersde drie nadat hy 'n skop afgestorm het, 'n drie deur C-Than Moos wat as die drie van die wedstryd en miskien selfs nog beter beskou kan word.  Ons sal eers André du Toit se video moet bestudeer om mooi te besef wat gevolg het op Waldo de Lange se rolskoppie en dan 'n strafskop en 'n puik skepskop deur C-Than Moos.

Fotograaf: Marius Nortje


Dit is Florries vs Monnas no 4 - hierdie keer vir 'n plek in die finaal vir die kroon van die Beeldtrofee Makroskole.

Die Hoërskool Monument het dr. EG Jansen in 'n kwarteindstryd om die Beeldtrofee Makroskole kafgedraf met 50 - 19.  Die wedstryd het Maandag 15 Augustus op Monnas se tuisveld plaasgevind.  Dit beteken dat Florries  en Monnas mekaar vir die vierde keer vanjaar aanvat - hierdie keer in een van die twee semi-finale van die Beeldtrofee Makroskole.  Die ander semi-finaal vind plaas tussen Waterkloof en HTS Middelburg.  Die Wesrand derby word gespeel op Dinsdag 23 Augustus om 14:30 op Monnas se veld.  Die slegte nuus is dat die twee Goue Leeus sowel as Wesrand rugbyreuse mekaar moet uitskakel vir 'n plek in die finaal van die Beeldtrofee, maar die goeie nuus is dat die finaal op die Wesrand gaan plaasvind aangesien die Goue Leeus voorkeur geniet.

Monnas se vertoning teen EG Jansen het 'n duidelike boodskap aan die Florries gestuur: julle sal eers by ons moet verbykom alvorens julle die gesogte kroon sal dra en die glipsie in die NuPower semi-finaal is lankal vergete.  Allesinaggenome moet Monnas as die oorweldigende gunsteling beskou word om nie net hierdie semi-finaal te wen nie, maar om ook as Beeldtrofee Makroskole Kampioen gekroon te word.


FLORRIES RUGBY 2011: ONDER 14-SPAN & EERSTESPAN HAAL SEMI-FINAAL VIR BEELDTROFEE MAKROSKOLE

o/14-span & 1e-span onder beste vier skole in Beeldtrofee Makroskole

Saterdag 13 Augustus sal in Florries se rugbygeskiedenis opgeteken word as ‘n triomfantelike rugbydag.  Florries het op sy tuisveld met beide die o/14’s & Eerstespan tot die semi-finaal (laaste vier) in die Beeldtrofee vir Makroskole deurgedring.

Die o/14-span het redelik maklik met Hoërskool Eldoraigne afgereken met ‘n telling van 25 – 12.  Die rustydtelling was 17 – 7 in Florida se guns.  Florries druk 4 drieë deur: Inus Vermeulen, JP Swart, Lee van Wyk en Ralph van Vuuren.  Ralph van Vuuren verdoel  een drie en Kyle Lues klits ‘n strafskop oor.

·Saterdag 20 Augustus om 09:00 speel Florries se onder 14-span op hul tuisveld teen Hoërskool Waterkloof in die semi-finaal van die Beeldtrofee Makroskole om die een Finalis van die 2011 Beeldtrofee te bepaal. 

Die ander oorblywende spanne by die o/14’s is: Menlopark en HTS Middelburg.

Die eerstespanwedstryd is na drama op én langs die veld uiteindelik maklik deur Florries met 38 – 17 beklink.  Na wat berig word het toeskouergedrag en selfs die gedrag van ‘n afrigter en die alewige onsmaaklike opmerkings teenoor die skeidsregter (wat onses insiens ‘n skitterende wedstryd gehad het) natuurlik veral wanneer ‘n span begin verloor, niks weggeneem van ‘n ongekende terugvegpoging deur Florries se eerstes nie.  Terloops: niemand het die skeidsregter verkwalik of verskreeu toe Florries binne minute 17 – 0 agter was en menige Florrie-ondersteuner begin gereed maak het vir ‘n loesing nie.  Baie gedagtes het deur jou kop begin maal en selfs die drie voor rustyd om darem met ‘n telling van 17 – 7 te gaan krisisbestuur toepas, kon nie eintlik help om Florrie-ondersteuners te lig uit ‘n toestand van verslaentheid nie. 

Almal was eenstemmig dat Hoërskool Kempton Park se eerstes ons onkant gevang het en dat hulle die eerste helfte oorheers het én dat Florries moeilik, indien wel, uit hierdie gat gaan opstaan.  Kempies se briljante slot , Tiaan Benadé, se naellopie van 60 meter langs die kantlyn af om vir een van die mooiste drieë wat vanjaar gesien sal word, te sorg, was ‘n bitter pil om te sluk.

Wie sou dus ooit kon dink dat die wind, die son en natuurlik die guts van 22 Florrie-helde sou sorg dat die eerste helfte se 17 punte deur Kempies ook hul laaste punte van die wedstryd sou wees.  Florida teken 38 onbeantwoorde punte aan en wen die wedstryd 38 – 17.  Dit is moeilikheid soek om spelers uit te sonder, maar ons moet die naam noem van Mark Strydom.  Hy skep ‘n probleem vir die fotograwe: hy is op al hulle foto’s!  Mark het weereens ‘n briljante wedstryd gespeel.  Waldo de Lange, Armand Dreyer, Dominic Wiering, Kappie Ruhann Kruger, Dominic Kroezen, Charlton Africa en ja, eintlik die hele span, het gesorg vir ‘n vertoning wat van karakter en deursettingsvermoë getuig het.

Florries teken 6 drieë aan: Dominic Kroezen (3 prag drieë!), Waldo de Lange, Bradley Paulse en Charlton Africa.  C-Than Moos verdoel 4 van die drieë.

· Florida se 1e-span speel in die halfeindstryd van die 2011-Beeldtrofee Makroskole teen die wenner van die kwarteindstryd tussen Dr. EG Jansen en Hoërskool Monument wat op Maandag 15 Augustus om 14:30 op Krugersdorp beslis word. (Indien Monument wen, sal die wedstryd (die 4de vanjaar) tussen Florries en Monnas op Dinsdag 23 Augustus op Monument se veld plaasvind).  Die drie (van die 4) semi-finaliste wat dus reeds bekend is: Florida (teen Monnas of EG Jansen) en Waterkloof teen HTS Middelburg.

Die Beeldtrofee word volgens die krag-teen-kragbeginsel / aantal seuns per skool in 4 kategorieë gespeel: (‘n Paar skole word as voorbeeld genoem).

Makroskole: Skole soos Florida, Waterkloof, HTS Middelburg, Monument, Menlopark, Nelspruit, Garsfontein,

Groot skole: Helpmekaar, Roodepoort, Ermelo, Potch Volkies, Ben Vorster.

Medium skole: Linden, Trinity College, Die Wilgers, Hans Strijdom, Ben Viljoen,

Klein skole: Leeuwenhof, Christiana, Komatipoort, Stanford College.

Skole in die Wesrandomgewing  soos Hoërskool Noordheuwel neem glad nie aan die NuPowerreeks of die Beeldtrofee deel nie en skole soos Bastion neem wel aan die Beeldtrofee vir Groot skole deel, maar kwalifiseer nie vir die NuPowerreeks nie.  ‘n Skool soos Afrikaans Hoër Pretoria neem ook nie aan die NuPowerreeks of die Beeldtrofee deel nie en speel teen skole soos Grey College in Bloemfontein, Pretoria Boys High en na wat berig word teen HTS Daniël Pienaar.

Foto's - Johan Viljoen van Yobaboon


FLORRIES EERSTES OOK IN BEELDTROFEE MAKROSKOLE KWARTEIND

Florries se 1e 15 doen dit weer! – net toe almal vergeet dat hulle as naaswenners by die Goue Leeus Makroskole tog nog vir die kwarteindstryd via ‘n uitspeelwedstryd kan kwalifiseer en hulle eintlik afgeskryf is, klop hulle die Hoërskool Garsfontein redelik maklik met 24 – 19 op Florries se tuisveld.  Puntemakers vir Florida: Ruhann Kruger druk twee drieë, Dominic Kroezen een, C-Than Moos verdoel al drie drieë en skop ‘n strafskop oor.

 Dit beteken dat Florida sowel as Monnas se wit bulle (die 2011 Goue Leeus Makro kampioene) hulle in die Kwarteind bevind.  Nog meer: as beide hierdie spanne hul wedstryde op Saterdag 13 Augustus wen, speel hulle vir die 4de keer vanjaar teen mekaar om te bepaal wie na die eindstryd van die Beeldtrofee vir Makroskole deurdring.  Dit is te vroeg om te praat en hoewel Monnas steeds as die oorweldigende gunsteling beskou moet word om die Beeldtrofee kampioene vir Makroskole te word, is hulle reeds op verrassende wyse in die semi-finaal van die NuPowerreeks geklop en het hulle in die wedstryd om die Goue Leeus kampioene te word glad nie oortuig nie. (Die niksseggende klug op Monnas se veld word steeds buite rekening gelaat in hierdie diskussie).

In elk geval moet die volgende wedstryde eers plaasvind en soos almal weet, tel geen vorige wedstryde of tellings nou meer nie.  Op hierdie stadium is dit die wip van die bal, ‘n geel kaart of ‘n skeidsregter wat die wenspan kan bepaal.  Op Saterdag 13 Augustus speel Florries op sy tuisveld teen Hoërskool Kempton Park in hulle kwarteind.  Kempton Park het as die Ooste se wenner regstreeks tot die kwarteind deurgedring.  Eweneens speel Monnas op hulle tuisveld teen Hoërskool Dr. EG Jansen in hulle kwarteind. (EG Jansen het Menlopark met 50 – 21 afgeransel).

Florries se o/15’s (24 – 27 teen Eldoraigne) en sy o/16’s (7 – 18 teen Garsfontein) kon ongelukkig nie die pyp rook nie.


Ruhann Kruger
 
Mark Strydom
 
Dominic Kroezen word net voor die doellyn gestuit.
 
Ruhann Kruger gaan oor vir een van sy twee drieë 
Foto's - Johan Viljoen van Yobaboon


Mei 2011 “BREAKING NEWS” / NUUSFLITS

FLORRIES 1e XV SKOK WIT BULLE TOT KALFIES

Koos van Vuuren het hom finaal as een van die Goue Leeus se top skolerugby-afrigters gevestig deur Florries se Eerste Rugbyspan – weer teen alle verwagting in en vir die soveelste keer - tot ‘n oorwinning oor Monnas se veelgeroemde superspan af te rig.  En die vraag word nou nog meer gevra: wanneer gaan die Goue Leeus op meriete en ontdaan van vals maatstawwe die beste skole-afrigter in sy geledere aanwend in belang van Goue Leeus Rugby in die algemeen.  Koos van Vuuren sal op skolevlak 'n verskil maak wat sal oorspoel na die na-skole vlak - wat rugbyvaardighede en lojaliteit betref.  Wanneer gaan die besluitnemers hul fout erken en regstel?

Florries se eerstespan het die Hoërskool Monument in die gesogte NuPowerreeks semi-finaal met 22-20 geklop om sodoende vir die eerste keer tot die finaal op Sa 14 Mei deur te dring – hier kom Florries te staan teen die Hoërskool Waterkloof wat die ander ssemi-finalis en Florries se Beeldtrofee en FNB Classic Clashes teenstander op 28 Mei,Marais Viljoen, met 72 - 13 oorrompel het.  Drie van Florries se spanne was Satedag aan die wenkant: o/14A wen met 34 – 7 teen Kempton Park, o/16A wen teen Jeugland met 19 – 0 en dan natuurlik die Eerstespan met 22 – 20 teen Monument.

 
Agter: Mnr. Marthinus Schutte (hoof), Koos Jansen van Vuuren (hoofafrigter), Ehrard Maritz, Tsepo Mooki, Shane Erasmus, Brandon Barkley, Steven Matsieng, Dwayne du Toit, PJ Rheeders, Johan de Jager, Johan Erasmus (hulp-afrigter), Rassie Erasmus.

Middel: Ettien Pretorius, Kobus du Plessis, Bradley Paulse, Ché Stevens, Stian Nel, C-Than Moos, Nico du Plessis.

Voor: Dominic Wiering, Bouke Gouws, Ruan Kruger (kaptein), Mark Strydom, Charlton Africa, Armand Dreyer, Jodé Mostert, Dominic Kroezen.

 
Tsepo Mooki - vleuel wat twee drieë gedruk het. 

FLORRIES SE 1e XV KLOP MONNAS IN NUPOWER

Vir die eerste keer in finaal van NuPower

Hoërskool Florida se eerste rugbyspan het vir ‘n ligte opskudding gesorg toe hulle Monnas, wat as die  gunsteling in hulle semi-finale wedstryd van die NuPowerreeks beskou is, met 22 – 20 uitgeskakel het.  Monnas is die huidige kampioen.  Florida se 1e-span kom nou vir die eerste keer in die bestaan van die reeks in die finaal te staan en wel teen Hoërskool Waterkloof.  Die finaal vind plaas op Saterdag 14 Mei op TUKS se LC de Villiers sportterrein.

“Ons spankarakter, veggees en verdediging het ons deurgedra teen ‘n oormag” sê eerstespanafrigter, Koos van Vuuren.  Hy sê dit was ‘n titaniese stryd en albei spanne het gesorg vir ‘n spannende en opwindende wedstryd wat deur ‘n groot skare geniet is.  Monnas kon net sowel die wedstryd gewen het, maar het ‘n strafskop reg voor die pale in die doodsnikke van die wedstryd misgeskop.

Vir Florida het Tsepo Mooki (vleuel) twee pragdrieë gedruk. Mark Strydom (Flank) het Florida vroeg met ‘n mooi drie laat voorloop.  Losskakel C-Than Moos het met die skopvoet ‘n skepskop oorgeklits en twee drieë verdoel.  Dit was ‘n spanpoging sonder weerga, maar Mark Strydom (flank/agsteman) het ‘n reusewedstryd gespeel 

Mnr Marthinus Schutte (hoof) sê:" Ek is ongelooflik trots op die mannemoed en veggees wat die seuns gewys het.  Hulle was ysters soos min."


GOEIE 2010 RUGBYSEISOEN VIR FLORRIES

WesRand-WR-WRNews008-WesRan.jpg

FLORRIES CRAVENWEEK 2010

Foto: Agter lnr: Koos Jansen van Vuuren (afrigter), Vian van der Watt (9), Tshepo Mooki (14), Gideon Müller (3), Leon Boshoff (afrigter).

Voor: Wian Fourie (2) Fabian Booysen (7).

Florries spog met nie minder nie as 5 Cravenweekspelers wat die Goue Leeus van 27 Junie tot 3 Julie op Welkom gaan verteenwoordig.  Die Cravenweek is die spogtoernooi vir die land se beste o.18-spelers.  Dit is hier waar toekomstige Springbokke gekwwek word.  Al 5 spelers is in die beginspan opgeneem. Hierdie spelers het 'n sleutelrol gespeel toe Florida vir Monnas, die huidige Beeldtrofee- en Goue Leeuskampioene, geskok het met 'n 13 - 12 oorwinning in die liga-wedstryd vir Makro skole.  Skolerugbyliefhebbers sien uit na die herontmoeting tussen die twee rugbyreuse op 24 Julie wanneer hulle mekaar op Hoërskool LInden se veld aanvat om te bepaal wie die Goue Leeus Makroskole kampioen vir 2010 gaan wees.

Armandt Liebenberg (4), Juan Vos (10) en Bradley Paulse (12) het die Goue Leeus Akademiespan gehaal en Erwin LOmbaard (5), Eugene Nel (6), Mark Strydom (8) en Ramon Sameuls (11) gaan die Goue Leeus op die NWU-PUK o.19 Welpieweek verteenwoordig.

Twee van Florries se rugbysterre is juis op die oomblik deel van die o.20 Bokkies wat in die Wêreldbekertoernooi in Argentinië speel: Elton Jantjies, doe losskakel met die goue voet en Francois du toit, die stewige haker, wat juis teen Monnas ook 'n klassieke drie onder die pale gedruk het om Florries te help om die Goue Leeus kroon in 2008 te verower.

Fotograaf: Kitty de Waal - 071-674-5756


COKE FINAAL 2009

Florries se 2009 "Coke" Kampioene!



Kaptein Fabian Booysen met die trofee vir die A-afdeling se kampioenspan 

FLORRIES SE ONDER 15-RUGBYSPAN MAKRO SPEEL IN DIE 2009 BEELDTROFEE SEMI-FINAAL

Hoërskool Florida se 0/15-rugbyspan het in die Makro skole-afdeling van die Beeldtrofee ondersteun deur Pennypinchers & Timbercity na die Semi-Finaal deurgedring deur die Hoërskool Rustenburg in die Kwarteindstryd met 15 - 7 te klop.  Florries se puntemakers: Drieë deur Brandon Maritz en Pieter Conradie (onder die pale).  Sabelo Dlamini het Brandon se drie uit die hoek uit verdoel en ‘n strafskop oorgeklits.

Hierdie puik span kom nou te staan teen die Hoër Teniese Skool Middelburg op HTS se tuisveld om te bepaal wie in die groot Beeldtrofee Finaal gaan speel om die 2009-Trofeewenners te bepaal.

Foto: 0/15-span by hul afrigter, mnr. Jaco Booysen.  Johan Swart (’n buite-afrigter) is nie op die foto nie.

BEELDTROFEE ondersteun deur Pennypinchers & Timbercity: Daar is 4 kategorieë volgens die krag-teen-kragbeginsel: Makro Skole (Wesrand: Slegs Hoërskole Florida & Monument), Groot Skole, Medium Skole & Klein Skole.


RUGBYGESKIEDENIS: SO NABY …

Saterdag 25 Augustus 2007 sal in Hoërskool Florida se geskiedenis bekend staan as ‘n groot dag vir rugby, maar ongelukkig ook as ‘n dag wat ons dit net-net nie gemaak het nie.  In die nuusbrief gedateer 30 Augustus 2007 skryf mnr. Marthinus Schutte, skoolhoof, die volgende: “Die Beeldfinaal vir Makro Skole was toe ‘n ware hoogtepunt vir ons skool gewees.  Dit was skolerugby van hoogstaande gehalte.  Skolerugby op sy beste is aangebied vir duisende mense wat teenwoordig was by hierdie geskiedkundige geleentheid”.  Mnr. Arthur Underhay was aan die hoof van ‘n puik georganiseerde dag,  Florrie-ondersteuners was natuurlik volop.  Oor Florries se trots, die 1ste en o.16A-span, wat albei tot die Beeldtrofee-finaal deurgedring het, skryf mnr. Schutte: “En laaste, maar beslis die belangrikste: die o.16A en Eerstespan rugbyspelers wat met groot eer, trots en waardigheid hulle alles gegee het.  Alle eer egter aan hulle opponente met hulle oorwinnings.”

Die o.16A-span is geskud met twee drieë binne die eerste 6 minute.  Hiervan kon hulle nooit regtig herstel nie, alhoewel hulle ‘n pragdrie net voor rustyd gedruk het.  Toe Monument na ‘n swak skop deur Florida gaan druk, was die koeël deur die kerk.  Ons o.16’s kan egter met trots op die seisoen terugkyk.  Hulle stryd met Monnas word met 2 elk gedeel en Florries is die Goue Leeus kampioene vir 2007!  Monument se aanwins van die Valke af, Jaco Taute, het ‘n deurslaggewende rol in hulle oorwinning gespeel.  Ons wonder net of Jaco die seun is van Jaco Taute, ‘n briljante rugbyspeler, wat vroeër op KHS was en vir wie mnr. Groenewald destyds skoolgehou het.  Ons weet dat daar ‘n baie spesiale verhouding bestaan tussen Monnas en Florida se onder 16’s en dat hulle mekaar tot groot hoogtes aanspoor.  Mnr. Van Vuuren het groot agting vir die Monnas-spelers wat vir hom in die Goue Leeus Grant Khomo-span gespeel het.  So: Monnas vat vyf!  Julle is die welverdiende wenners van die gesogte Beeldtrofee!

Ons Eerstespan was in ‘n wipplank-riller gewikkel.  Vroeg in die eerste helfte is ‘n Waterkloofspeler vir ‘n kopstamp ge-rooikaart.  Teen die verwagting in het dit Klofies meer aangespoor as ontwrig.  Met die telling op 17 – 14 in die guns van Waterkloof (nadat elke span twee pragdrieë aangeteken het en Klofies met ‘n strafskop geslaag het) met ongeveer 6 minute speeltyd oor, het ‘n kritiese draaipunt in die wedstryd plaasgevind en het Florries as gevolg van ‘n uiters positiewe benadering daartoe bygedrae dat hulle hoop finaal verydel is: Florida ontvang ‘n strafskop binne trefafstand van hul betroubare losskakel, Elton Jantjes, (ons het so pas verneem dat hierdie graad 11-speler gekies is vir die Goue Leeus o.19-span – ‘n prag prestasie!), alhoewel teen die wind.  Kaptein Jacques Pretorius wat weereens ‘n drie gedruk het, het besluit dat Florries moet kantlyn toe skop om liewers die trofee uit en uit te wen as om dit te deel (hy het blykbaar nie vir daardie gevoel van om jou suster te soen kans gesien nie).  Sou die telling op 17 elk gewees het as die eindfluitjie geblaas het, sou daar geen ekstra tyd gespeel word nie en sou die trofee gedeel word!  Dinge het ongelukkig skeefgeloop en Waterkloof het van daardie situasie naby hulle doellyn af ‘n drie gaan druk wat hulle oorwinning verseël het.  Dit was dan ook ‘n geval van die derde keer skeepsreg vir Waterkloof.  Vir ons Eerstes was dit dus ‘n geval van so naby en tog so ver, maar hulle kan trots wees op hulle positiewe spel en ons wens Klofies geluk met hul oorwinning.

Om op te som: vir Florries was dit ‘n groot dag en ons kan mnr. Chris Schlebusch (voorsitter Beheerliggaam) aanhaal: “ons was daar”!


RUGBYGESKIEDENIS VIR FLORRIES: EERSTESPAN & o.16-SPAN IN BEELDTROFEE FINAAL OP HOËRSKOOL FLORIDA SE VELD

Op Saterdag 25 Augustus 2007 word rugbygeskiedenis vir Hoërskool Florida en die Wesrand gemaak deurdat die finale wedstryde vir die gesogte Beeldtrofee in al die ouderdomsgroepe  (o.14, o.15, o.16 & o.18 of 1ste) op die veld van Hoërskool Florida plaasvind.  Die groot nuus is egter dat Florida se 1ste-span sowel as die o.16A-span in twee van die 4 wedstryde op die veld sal wees.  Dit is juis te danke aan die Florries se skitterende eerstespan se oorwinning teen Dr. E.G. Jansen in die Semi-Finaal sowel as die feit dat die Goue Leeus vanjaar die prioriteitsprovinsie is, te danke dat al die wedstryde by Florida plaasvind.

Florries het in die semi-finaal geskitter.  Die 1ste-span het met 21 – 12 gewen teen Hoërskool Dr. E.G. Jansen van Boksburg.  Kaptein, Jacques Pretorius, het twee pragdrieë vir Florries gedruk.  Anton Wessels het, nadat hy sy eie binne grondskoppie opgevolg het, langs die pale vir Florries se derde drie oorgeval.  Losskakel, Elton Jantjies, het al drie drieë verdoel.  Florida se 1ste-span moes hard spook om die manmoedige span van die Oos-Rand onder te kry.  E.G. Jansen het geantwoord met twee drieë – waarvan een ‘n troosdrie in die 36 ste minuut – en een doelskop.  Die rustydtelling was 7 – 7 nadat Florida eers in die 29 ste minuut van die eerste helfte ook ‘n drie kon aanteken.  Florries se 1ste-span kom in die finaal te staan teen Hoërskool Waterkloof wat Hoërskool Monument in die ander halfeindstryd met 35 – 17 geklop het.  Waterkloof was teen rustyd reeds voor met 32 – 3.

Florries se puik o.16A-span het ook deurgedring tot die finaal deurdat hulle met Hoërskool Kempton Park afgereken het met ‘n telling van 24 – 7.   Florida se twee drieë is gedruk deur kaptein Bertus Jansen van Vuuren en Jama Ntengo.  Losskakel Pieter Kruger het oudergewoonte spel met sy geleerde skopvoet gedikteer.  Sy skepskop na net 2 minute in die eerste helfte was ‘n juweel en het die nodige momentum aan Florries besorg.  Pieter het ook 1 doelskop en drie strafskoppe oorgeklits vir ‘n persoonlike totaal van 14 punte.  Florida se o.16-span kom nou in die finaal vir die 4de keer hierdie seisoen teen Hoërskool Monument te staan.  Teen die verwagting was Florida twee keer – waarvan een keer op Monnas se tuisveld – aan die wenkant en het hulle nog net in die doodsnikke van ‘n wedstryd in die Michelin-Tuks reeks teen Monument verloor.

Florries se twee topspanne het geen illusies oor wat vir hulle voorlê nie en hulle weet dat vorige vertonings nou nie meer tel nie, maar hierdie een kans in ‘n leeftyd – op ons tuisveld - sorg reeds vir genoegsame motivering.  Die Florries Webbladredaksie wil graag aan ons twee spanne sê dat ons baie trots op julle is en dat ons julle graag alle sterkte wil toewens vir Saterdag se groot stryd.

Ons o.15A-span was bitter ongelukkig om met 14 – 17 teen Hoërskool Waterkloof te verloor.  Hulle was soos blits met 14 – 0 voor na twee skitterdrieë deur Juan Vos en Steven Matsieng.  Altonio Jantjies het albei drieë vedoel.  Daarna het Waterkloof geantwoord met twee verdoelde drieë en ‘n strafskop om ‘n oorwinning te verseker.

Die o.14’s het hulle tot rustyd goed gehandhaaf en was slegs met 0 – 5 agter.  Na rustyd het die puik span van Klofies egter die krane oopgedraai en nog 5 drieë gedruk om met 40- 0 tewen.

Tellings Beeldtrofee Semi-Finaal Makro Skole

Eerste spanne: Waterkloof 35, Monnas 17; Florida 21, E.G. Jansen 12.

o.16: Florida 24, Kempton Park 7; Monnas 10, Waterkloof 6.

o.15: Waterkloof 17, Florida 14; Monnas 29, E.G. Jansen 13.

o.14: Waterkloof 40, Florida 0; Monnas 19, Jeugland 12.

Bepalings Beeldtrofee Finaal Sa. 25 Augustus te Hoërskool Florida (Tye Voorlopig)

09:00  o.14        Monument t Waterkloof

10:15  o.15        Monument t Waterkloof

11:30  o.16        Florida t Monument

13:00 Eerste      Florida t Waterkloof


FLORRIE-RUGBY MAAK GESKIEDENIS

(Sien foto's in die Foto-album)

Hoërskool Florida se rugby is besig om opslae te maak. 

1 ste-span & 0.16A-span 2007 Goue Leeus Kampioene vir Makro Skole

Vir die derde agtereenvolgende jaar het die twee rugbyreuse van die Wesrand, Florries en Monnas, mekaar die stryd aangesê in die finaal om te bepaal wie in 2007 as die Goue Leeus Kampioene gekroon gaan word.  En vanjaar was dit die Florries wat sy stem dik gemaak het deurdat sy twee seniorspanne as oorwinnaars van die veld gestap het.  Die Eerstespan het in ‘n naelbytaffêre en marathon tweede helfte van 46 minute die knoop deurgehaak met ‘n telling van  13 – 9.  Die 0.16’s het in ‘n ewe spannende wedstryd met 6 – 3 gewen.  Die 0.14- en 0/15-spanne het hulle wedstryde teen Monnas naelskraap met onderskeidelik 3 – 7 en 0 – 3 verloor, maar ook na die volgende rondte van die Beeldtrofee deurgedring, aangesien die wenner sowel as die naaswenners van die Goue Leeus Makroskole deurdring.

0/14, 0/15, 0/16 & 1ste-span in semi-finaal van die Beeldtrofee!

Die groot nuus is dat al vier Florries se spanne  op Saterdag 18 Augustus op ons tuisveld in die Semi-finaal van die Beeldtrofee speel.  Al vier spanne het in die Kwarteindrondte  geseëvier:

0/14A  Florries 5    HTS Middelburg 0

0/15A  Florries 17  HTS Middelburg 5

0/16A  Florries 34  HTS Middelburg 5

1ste-span          17  Hoërskool Middelburg 8

Bepalings vir Beeldtrofee Halfeindwedstryde 18 Augustus by Hoërskool Florida (Groep 1)

08:00  0/14A  Florries t Hoërskool Waterkloof

09:00  0/15A  Florries t Hoërskool Waterkloof

10:00  0/16A  Florries t Hoërskool Kempton Park

11:00   1ste    Florries t Dr. EG Jansen (Boksburg)

Bepalings vir tweede groep halfeindwedstryde 18 Augustus by Hoërskool Monument (Groep 2)

08:00  0/14A  Monnas t Hoërskool Jeugland

09:00  0/15A  Monnas t Hoërskool Dr. EG Jansen

10:00  0/16A  Monnas t Hoërskool Waterkloof

11:00    1ste   Monnas t Hoërskool Waterkloof

Beeldtrofee Finaal 25 Augustus – indien Florries se Eerstespan wen, vind al die finale wedstryde by Hoërskool Florida plaas – al wen Monnas se 1ste-span ook hulle wedstryd, omdat Florida se Eerstes die Goue Leeus wenners is.

Al die spanne: Wenner van Groep 1 t Wenner van Groep 2


Uittreksel uit Wes-Beeld
Florida
verslaan Bastion

Jun 08 2007 03:42:29:757PM  - (S A)                                                                  


"Jy mag nie pootjie nie!" Yazeed Johnson van die Hoërskool Bastion probeer alles in sy vermoë om die kookwater-heelagter van Florida, Hein Grimsell, te stuit in sy aanslag op Bastion se doellyn. Foto: Marius Nortjé

Marius Nortje

Die stryd van alle stryde het hom Saterdag tussen die hoërskole Bastion en Florida afgespeel toe die eerste rugbyspanne mekaar aangevat het om te bepaal wie teen die Hoërskool Monument in die liga se eindstryd sou speel.

Om vir die eindstryd te kwalifiseer, moes Florida vier drieë druk of met meer as 22 punte wen, terwyl Bastion net een punt nodig gehad het.

Met die son wat hardnekkig was en glad nie sy kop uitgesteek het nie, is daar ten minste vuurwarm rugby gespeel.

Florida het sommer vroeg in die eerste helfte bloed geruik met ’n suksesvolle strafskop deur die ingeoefende voet van Winston Williams.

Die vreugdevure was egter van korte duur toe Bastion se Ivandau Johnson ’n pragdrie gedruk het, wat deur Deon Kruger verdoel is.

George Appelgrein van Florida het kort daarna een van sy twee drieë gedruk en Kruger het met ’n reuse-strafskop van ongeveer 48 m geslaag.

Bastion het met rustyd 10-8 voorgeloop. Wat baie opmerklik was, is die feit dat Florida se voorspelers totaal oorheers het en dat die een vasskop ná die ander gehaak het. Die telbord het egter nie dié verhaal vertel nie.

Dié toedrag van sake het in die tweede helfte voortgeduur, met Florida wat die een vasskop ná die ander gehaak het, en Florida se voorspelers wat net te veel was vir Bastion.

Met die aanhoudende druk wat die voorspelers op Bastion geplaas het, is hulle darem met drie drieë beloon.

Die eerste was deur die kragman Petrie van Zittert, gevolg deur die kookwater-agtsteman André Potgieter en die rateltaai flank André Jantjies wat agter die pale besoek afgelê het.

Die laaste drie van die dag het behoort aan die spoedvraat van Florida, George Appelgrein, wat ook sy telling op twee drieë te staan gebring het.

Florida het Bastion met 30-10 geklop en sodoende deurgedring tot die eindstryd. Die spanne van Florida en Monument ontmoet mekaar in die eindstryd ná afloop van die skoolvakansie.

Hoewel die halfeindstryd deur prag-rugby gekenmerk is, het swak gedrag deur een van die Bastion-ouers ’n bitter smaak in die mond gelaat toe hy met kras en vulgêre taal van langs die veld op die kaptein geskree het.

Wes-Beeld se joernalis, wat ook langs die veld was, moes ook onder dié ouer se tong deurloop toe hy hom daarop gewys het dat daar vrouens en kinders in die omgewing was.

Ander uitslae van die dag was: o.14A: Florida 57, Bastion 0, o.15A: Florida 42, Bastion 3; o.16A Florida 59, Bastion 3.


Kopiereg (c) 2007 Alle regte voorbehou.
hoof@florries.co.za