Jeug Oor Kultuur-Fees (JOK Fees)

Drama Aand:

Die graad 12 Drama-leerders het op 31 Julie 2017 die geleentheid gehad om soos, in Hollywood, hulle praktiese eksamenstukke op te voer.  Die optredes was skitterend en die gehoor kon hulle inleef in die gedagtes van moordenaar, liefdevolle mans en vroue tot die ellende en swaarkry van die konsentrasiekampe in die Anglo Boere-oorlog.  

Tongelos:

Wat ʼn aand vol pret en plesier.  Ons is vermaak deur kreatiewe karakters.  Die musiektrivia-kompetisie het die breinsappe behoorlik laat vloei.

Wenners:  Beste geklee:  “Dominos”.  Beste kreet:  Kaapse skollies.  Musiektrivia wenners:  “Sleeping Beauties”.  Ons sien uit na volgende jaar se trivia!

Babbelfees:

Die jaarlikse Babbelfees het op 2 Augustus plaasgevind.  Ses skole het deelgeneem naamlik, Hoërskole Florida, Transvalia, Randburg, Bastion, Marais Viljoen en Laerskool Helderkruin (wat in die graad 8-groep meegeding het).

Die skole het in spanverband deelgeneem en daar is ook 14 beste sprekers wat individueel teen mekaar meegeding het.  Die beoordelaars was, soos elke jaar, baie beïndruk met die gehalte van die sprekers se toesprake.  Melissa Schroeder (gr. 12) is aangewys as die beste spreker van graad 12 en ons graad 12-span het ook gewen.  Ons graad 11-span was die naaswenners en ons ander graad 11-span het 80% behaal.  

Florries Got Talent:

Die saal het behoorlik gebars van opwinding... die stoele was volgepak... die seremoniemeester op sy pos!  Gereed.... aksie!

Só het nog ʼn suksesvolle Jokfees-aktiwiteit op Woensdag, 2 Augustus 2017 plaasgevind.  Die Florries het behoorlik met hul talente kom spog.  Van die sang- en dansitems was van hoogstaande gehalte en vir baie Florries was dit hul eerste keer op die verhoog.

Met so baie belangstelling het ons besluit om volgende jaar hierdie funksie baie meer professioneel aan te pak – teateretiket gaan beslis aan die Florries geleer word!

Klank, ligte, gereed... AKSIE!  2018 hier kom ons!

Baie geluk aan die algehele wenners:

  1. Sugar and Spice (Dansitem)
  2. Jessica Olehile (Solodans)
  3. Lucky, Tshiamiso, Lizo (Gumbootdansers)

Europese Dag:

Die kompetisie oor kennis van Frankryk en Duitsland het die vorige week reeds afgeskop en die antwoorde op die vrae is tydens blokke op ʼn prettige manier voorgestel.  Tydens pouse het die Duitsers teen die Franse Boulle gespeel en moes hulle die knie buig voor die Franse.  Geluk!  Volgende jaar maak ons weer so!

Dewald Wasserfall:

Die Florries het die puik vertoning baie geniet.  Ons was ook baie trots op ons twee onderwysers, mnr. Landru Ehlers en Danré van der Spuy, van Wolwedans, wat in die voorprogram opgetree het.  Baie dankie vir u ondersteuning.  

Feesdag Sport:

Graad 12’s wen die hokkie teen graad 11’s met ʼn telling van 5:4.

Onderwysers wen die netbal teen die graad 12’s.

Graad 12’s wen die rugby teen graad 11’s met ʼn telling van 13:12.

Florries-July In Augustus:

‘n Dag van glans en baie pret!  Ons ontwerpers het geskep en ons modelle het in hul blinkste vere op die loopplank gepronk! Die beoordelaars (ons mooie juffrouens)  moes behoorlik kopkrap om die beste modelle en ontwerpers aan te wys.

Ons perde het in die perdekampie gepronk en juf. Steyn het seker gemaak geen perd het nog perdegriep onder lede nie, voordat sy en mnr.  Oosthuizen hul laat wegspring het. Die jokkies, geklee in spoggerige wedrendrag, was gereed om die beste uit hul perde te haal!

Tot ons hoof, mnr. Katzke en sy ‘gewillige ponie’,  mnr. Ehlers, het stof in die ander teenstanders se oë geskop en bewys dat die volbloed-hings-kombinasie ‘n span is om mee te reken. Mnr. Hanekom en juf. Tania Louw het op bedrewe wyse die dag as seremoniemeesters opgetree.  Florriepersoneel het die gebeure gevolg vanuit die V I T (Very Important Teacher) area, geklee in hul spog July-uitrustings.  Dankie aan elke Florrie vir die saamlag, aanmoediging en deelwees om van ons FLORRIE-JULY ‘n onvergeetlike dag te maak!

Clover Promosie:

4 Augustus 2017 was ‘n dag vol opwinding en pret.  Clover het hulle nuwe gesondheidskoeldrank, Futurelife, by Hoërskool Florida kom bekendstel.  Die Florries moes hard werk om die koeldrank te verdien. Clover het dit in ‘n houtkrat wat gesluit was met kettings en ‘n slot met verskeie leidrade wat die moontlike kode kan wees vir die slot, vir die leerders gegee.  Om sake moeiliker te maak was daar net ‘n beperkte tyd gewees om die slot oop te kry. Die versteekte kameras wat elke oomblik vasgevang het, het verseker dat ons lekker verrasste Florrie-gesigte gekry het.  Die pret was beslis die moeite werd.... Clover “Futurelife” het beslis die Florrie-dors geblus. 

Bergfiers:

Op 5 Augustus 2017 het die bergfietsspan gebruik gemaak van “Iride2” om bewuswording van die sport onder leerders en ouers aan te wakker. Ons wil vir elke ouer en leerder opreg bedank vir julle positiewe ondersteuning.  Spesiale dank aan die fietsryspan se ouers wat die geleentheid vir ons moontlik gemaak het.  Dankie vir julle harde werk en toewyding.  Sonder julle sou die dag nie ‘n sukses gewees het nie. 

Sterkte met die volgende liga - mag dit goed gaan met elkeen van julle.  Onthou ons is tot alles in staat deur Jesus wat vir ons krag gee.

Florriefees:

Hierdie feesdag was groot pret met baie aktiwiteite, onder andere 7’s rugby, Fast 5 netbal, hokkie, graad 11 vs. graad 12 hokkie / netbal / rugby, kos- en ander stalletjies, springkastele, Kids Zone, ʼn bergfietshindernisbaan deur Iride 2, motoruitstallings en nog vele meer.  Die fees is afgesluit met ‘n baie suksesvolle Donkey Derby in die skoolsaal.   

Groot dank aan al die Beheerliggaamslede, personeel en ouers wat van hierdie feesdag ʼn reuse sukses gemaak het.

AGTERGROND:

‘n Naam is vir die fees gesoek – iets wat lekker op die tong sou lê. So het Jok-fees of te wel Jeug Oor Kultuur onstaan. Plakkate is ontwerp. Heel kreatief het een van die kunsleerders ‘n wasgoedpennetjie geteken en slagspreuke soos :”JOK en Jol”, “Hang uit met kultuur”, “Pen dit vas” en “JOK jy ook?” ontstaan.

DIE IDEE

Het posgevat by 'n oudleerder Henriëtte Fourie en haar ma, Jeanette, in samewerking met mnr Niekie van den Berg

DIE DOEL

Om 'n verhoog daar te stel waar talentvolle hoërskoolleerders kan optree en om leerders aan kultuur bloot te stel.

DIE PROSES

Nie lank daarna nie is 'n opleidingskursus aangebied deur die ghoeroes van die KKNK, Karen Meiring en Jans Rautenbach wat vir belangstellendes van heide en verre kom vertel het van die moets en moenies verbonde aan 'n kunstefees. 'n LOGO sien die lig. Spel tussen woord, letters en beeld resulteer in Jeug-Oor-Kultuur

DIE KARAKTER

Van die JOK-fees ontwikkel as 'n tradisionele feesweek, aangebied by Hoërskool Florida waar leerders blootgestel word aan alle fassette van kultuur. Die fokuspunt is nie uitsluitlik kuns- en kultuur nie, maar ook blikkiesbou, 'n teetuin - Katjiepiering - aangebied deur die Kuns en Hotel Departement, entrepreneurs-geleenthede, dans en baie meer. Die doel is ook nie net kulturele verryking nie, maar sommer net gesonde pret en ontspanning.

Met die eerste jaar se bouery van ‘Florassic Park” word 201 371 blikke ingesamel en die voortuin omskep in ‘n park vol diere. Florassic Park se inwoners –‘n leeu, buffel, kameelperd, renoster en olifant was so indrukwekkend dat dit tot verskeie verkeersknope voor Hoërskool Florida gelei het. Mense wat verby gery het moes eers stop om na die asemrowende blikdiere te staar.

UITVOERENDE KUNSTE:

  • Afrikaanse en/of Engelse Eenbedrywe
  • Kore
  • Solosang
  • Sang ensemble
  • Solo Instrumentaal
  • Ensemble Instrumentaal
  • Kontemporêre Dans
  • Kuns
  • Eksperimentele werk (Groeptema/Informeel/beweging)
  • Mimiek

VISUELE KUNSTE:

  • Skilderkuns
  • Beeldhoukuns
  • Grafiese kuns (lino, etz, monotipes)
  • Tekenkuns

GASKUNSTENAARS

Wat al oor die jare opgetree het sluit in: Randal Wicomb, Pieter Smit, Navi Red, Mathys Roets, Overtone, Coenie de Villiers, Glaskas, Lucas Maree, Theuns Jordaan, Revolusie, Prime Circle, Nataniël, Robbie Wessels, Chris Cameleon, Karen Zoid, Klopjag, Tuindwergies, Melktertkommissie, Straatligkinders, DNA Strings en Dewald WasserFall.