Opedag Toespraak - 15 Maart 2017

File_000.jpeg

Liewe voornemende Florrie en Florrie-ouers.  Baie welkom by Hoërskool Florida, die toonaangewende skool wat presteerders kweek.

Hoërskool Florida is al vir 72 jaar ʼn trotse baken in ons omgewing met ʼn ryke tradisie, statige skoolgeboue en fantastiese sportfasiliteite.  Ons skool is ons en menige oud-Florrie se trots.

Ek is Julius Katzke, trotse nuwe hoof van Hoërskool Florida en ek wil graag hê een en elkeen van julle moet in 2018 die nuwe avontuur saam met my aanpak.

Ek is bevoorreg om ʼn briljante bestuurspan aan my sy te hê.  Ons het 3 uiters bekwame adjunkhoofde:

  • Mnr. Johan Botha: is gemoeid met vakkeuses en dissipline.                  
  • Me. Lina le Roux:  Akademie en Kultuur                                                       
  • Mnr. Koos Jansen van Vuuren:  Sport & Infrastruktuur

Dit is vir my ʼn voorreg om saam met hierdie drie leiers te werk omdat hulle hulle vinger op die Florrie polsslag het en die leerders ken.  By Florida is u kind ʼn individu en nie net ʼn nommer nie.

Hoërskool Florida het twee sportdirekteure:  me. Di Woolley (SA-Netbal) en mnr. Stefan Lourens (Provinsiale afrigter). 

Hoërskool Florida beskik oor ʼn dinamiese personeelkorps wat daagliks waarde gedrewe onderrig verseker.

Ingeligte ouers maak regte keuses:

Het u geweet:

  • Hoërskool Florida het tans 1250 leerders en is trots Afrikaans.  Ons is die grootste Afrikaanse skool wat Christelike waardes onderskryf in ons distrik.
  • Hoërskool Florida het die wydste vakkeuse – u kind kan in graad 10 uit 26 verskillende vakke kies.  Daarom kan Florries vir jou ʼn wêreld oopsluit.
  • By Hoërskool Florida is daar die mooiste vlag tradisie en bekroningsplegtighede, elke  graad 8 ontvang ʼn skoolbaadjie as deel van hul inhuldigingsfunksie en die baie bekende JOK-fees program. 
  • By Hoërskool Florida glo ons net die beste is goed genoeg. 
  • Ons missie is om leerders op akademiese-, kultuur- en sportgebied te begelei tot die hoogste sport.
  • Ons open elke dag met skriflesing en gebed en sluit elke dag af met gebed.  Daarom gaan dit goed met Hoërskool Florida want die Here is hier in beheer.
  • Ons dien die gemeenskap deur betrokke te wees by verskeie gemeenskapsprojekte. 
  • Het u geweet die Florant, ons skool se koerant, verskyn halfjaarliks waarin ons spog met ons talle prestasies.
  • By Hoërskool Florida is roetine en dissipline ononderhandelbaar en ons beskik oor ʼn weldeurdagte dissiplinêre stelsel.
  • Hoërskool Florida het op die terrein ʼn gimnasium en ʼn “crossfit” sentrum.  So tussen huiswerk, wagklas, rugby- of netbaloefening, die musiekklas kan hulle gou-gou ʼn draai in die gym maak en van oortollige energie ontslae raak. 
  • ʼn Florrie is trots op sy skooluniform en ons handhaaf ʼn das en baadjie kultuur want dit skep eenvormigheid, samehorigheid en ondersteun ons trotse tradisie en dissipline.
  • Skoolklere is by die skool se eie klerewinkel te koop.
  • Ons ouers is betrokke want hulle kinders is hul kosbaarste skat – daarom ontvang u ʼn weeklikse nuusbrief, die Florrie Fokus, en ander kommunikasie stelsels soos die webblad, D6-Kommunikator, bakkiesblad (face book), eposse en sms-stelsels.
  • Hoërskool Florida beskik oor ʼn vloot voertuie en bedien roetes na Helderkruin, Noordheuwel, Horison, Roodekrans, Ruimsig, Kenmare en Silverfields
  • Ons beskik oor ʼn pragtige seuns- en dogterskoshuis. 
  • Daar is vir u  kind se gerief ʼn wagklas na skoolure.
  • Ons is trots op ons statige skoolgeboue.  Daar word baie aandag gegee aan ons omgewing om dit esteties mooi te maak, kyk gerus om u. 
  • By Hoërskool Florida is daar elke dag, behalwe Sondag ʼn miernes van bedrywighede.
  • Florries het twee Restaurante waar u  ʼn heerlike 3 gang maal tydens Restaurantaande kan geniet.
  • By watter ander skool aan die Wesrand kan u kind op een terrein skoolgaan, die beste sportafrigting kry, deelneem aan legio kultuuraktiwiteite en dan nog ook gebruik maak van briljante musiekonderwysers by ons musieksentrum.
  • Waar is daar nog ʼn musiekskool wat spog met afrigting in harp, viool, koperblaasinstrumente, klavier, kitaar, klawerbord?  En dit is beskikbaar vir enigiemand oud en jonk.
  • Het u geweet dat Hoërskool Florida die tuiste is van die Florida Simfonieorkes en bied jaarliks twee konserte aan.
  • Hoërskool Florida bied twee Europese tale aan naamlik Frans en Duits. 

Ons streef kernwaardes by Hoërskool Florida na en dit is geanker in ons Christelike geloof:

  • Respek
  • Eerlikheid
  • Stiptelikheid
  • Pligsbesef
  • Erkenning
  • Kontinue
  • Lojaliteit

Dit is vir my ʼn voorreg om deel te wees van ʼn skool wat jaarliks kan spog met uitmuntende akademiese presteerders.

Ek gee graag vir u ʼn voëlvlug oor die laaste 10 jare se top prestasies:

2005         

Jana de Lange – 7 onderskeidings (Top presteerder in Gauteng).  Afrikaans 98%, Engels 95%, Wiskunde 97%, Addisionele Wiskunde 99%, Natuur en Skeikunde 99%, Rekeningkunde 99%

2006

Mariaan van Zyl – 8 onderskeidings (3de beste presteerder in Gauteng)              Ekonomie 99%, Rekeningkunde 99%

2008

Gerdus Benade – 9 onderskeidings (4de in Gauteng)                                   Wiskunde 100%, IT 99%, Rekeningkunde 97%

2009

Wilmé Olivier – 8 onderskeidings (6de in Gauteng)                              Wiskunde 100%, Rekeningkunde 96%

2010

Janina Benade – 10 onderskeidings (Dux-leerder in Gauteng)                       Wiskunde 100%, Fisiese Wetenskap 97%, IGO 95%

2011

Pieter Erasmus – 10 onderskeidings (Dux-leerder in distrik)                Alpha Wiskunde 94%, IGO 98%, IT 92%

2012

Ruan Snijder – 9 onderskeidings (Dux-leerder in distrik)                 Wiskunde 100%, Alpha Wiskunde 99%, Rekeningkunde 96%, Fisiese Wetenskap 95%

2013

Daniël Louw – 8 onderskeidings (Dux-leerder)                                       Wiskunde 89%, Geografie 88%, Fisiese Wetenskap 88%, Siviele Tegnologie 88%

2014

Morné Theron – 8 onderskeidings (Dux-leerder)                                      Wiskunde 94%, IT 89%, IGO 88%

2015

Christina Margetts – 8 onderskeidings (Dux-leerder)                         Rekeningkunde 98%, Wiskunde 97%, Alpha Wiskunde 97%, Besigheidstudies 91%

Ons spog in 2016 met twee leerders met 9 onderskeidings, een met 8 en twee met 7 onderskeidings en vyf met 6 onderskeidings.  Ons toppresteerder, Ilse Smit, het 9 onderskeidings.  Sy behaal  90% vir Wiskunde, 93% vir Engels, 95% vir Lewenswetenskappe en 94% vir Rekeningkunde.

14 onderwysers is in 2016 aangewys as die beste graad 12-vakonderwysers in 9 vakke in die distrik.  Vakke is Dramatiese Kunse, Engels, Musiek, Afrikaans, Visuele Kunste, Fisiese Wetenskap, Ingenieursgrafika- en Ontwerp, Gasvryheidstudies en IT (Inligtingstegnologie). 

Ons lewe in ʼn kompeterende wêreld en daarom kan u kind kies tussen English Additional Language of English Home Language

Om laasgenoemde te neem moet u kind ten minste 75% vir Engels in graad 7 behaal. 

U kind sal ook volgende jaar binne die nasionale kurrikulum blootgestel word aan:

  • Dramatiese Kunste
  • Ingenieursgrafika- en Ontwerp
  • Rekenaarvaardighede
  • Sportopvoeding                                               
  • Gasvryheidstudies
  • Siviele- en Elektriese Tegnologie
  • Visuele Kunste
  • Duits                                         
  • Frans                                           
  • Musiek                                                            
  • Spraak & Drama
  • Rekeningkunde

Hierdie voorreg kan hul slegs by Hoërskool Florida geniet.

Graad 10 tot graad 12 vakkeuses:

Verpligte vakke:

  • Afrikaans Huistaal
  • Engels Addisionele Taal of Engels Huistaal
  • Wiskunde of Wiskundige Geletterdheid
  • Lewensoriëntering

Keusevakke: 

  • Visuele Kunste
  • Musiek
  • Dramatiese Kunste
  • Rekeningkunde
  • Besigheidstudies
  • Ekonomie
  • Geskiedenis
  • Gasvryheidstudies
  • Siviele Tegnologie
  • Tegniese Wiskunde
  • Fisiese Wetenskap
  • Lewenswetenskap
  • Rekenaartoepassingstegnologie
  • Inligtingstegnologie
  • Frans
  • Duits
  • Toerisme
  • Ingenieursgrafika- en Ontwerp
  • Elektriese Tegnologie
  • Tegniese Natuur en Skeikunde
  • Alpha Wiskunde

Ons is trots op ons puik sportprestasies en spog oor jare met verskeie SA-sportsterre en honderde provinsiale sportsterre in verskeie sportsoorte.  Elton Jantjies is die bekendste en het Maandag tydens saalopening by Florries gekuier. 

Sportsoorte wat by ons skool aangebied word:

Atletiek, landloop, rugby, netbal, seuns- en dogtershokkie, skyfskiet, muurbal, skaak, bergfiets en tennis.

Byna alle sportspanne toer elke jaar. 

Ons skool het 7 provinsiale afrigters in onder andere rugby, skiet, tennis en netbal en 3 provinsiale keurders in rugby en netbal. 

Ons is bekend vir ons musiekblyspele, tonele, spreekkore, koor onder leiding van Koormeester Vaughan van Zyl, redenaars, Mnr. & Mej. Florrie, Florrie-meisies, bekgevegte, JOK-fees (Jeug oor Kultuur), Idols, Spelathon, Kunstefeeste, Kunsuitstallings, Olimpiades.

By Florries spreek ons ons woord, sing ons ons noot en leef ons Afrikaanse kultuur voluit uit.

By Hoërskool Florida is daar ʼn besondere iets, ʼn gevoel van behoort, ʼn onblusbare gees, ʼn Florrie Magic.  Dit is die skool waar 1000 leerders instinktief en entoesiasties bankvas op die pawiljoen die wêreld laat bewe.

Ons is ʼn familie – hier sal jy tuis voel.

ʼn Slim man het eendag gesê:  “As jy wil sien hoe goed dit met ʼn skool gaan, moet jy op grondvlak  beweeg!”                                                            

By ons lag die kinders, hulle voel tuis en blom.  Hulle sal u vertel, hulle het die gees vandag beleef.  Hier is magic, Florrie Magic. 

Hoërskool Florida is beslis die plek vir jou. Daarom moet jy so gou as moontlik inskryf. 

Maak die regte keuse – die Florrie keuse.

Dankie dat u by Hoërskool Florida kom kuier het – ons weet sommer dat dit in 2018 u kind se nuwe tuiste sal wees. 

Indien enigeen van u ons persoonlik wil ontmoet of nog vrae het, ons is hierna beskikbaar.

Elke leerder sal op die galery ‘n inskrywingsvorm en ʼn DVD ontvang.  U as ouers sal ʼn geskenk  van Florries by die deur ontvang.  Maak asseblief ook seker dat u u inligting vir ons neergeskryf het.

VEILIG REIS EN GESEËNDE AAND.

JJ KATZKE