|
Hoërskool Florida is ‘n skool met ‘n trotse
en ‘n ryke geskiedenis, ‘n skool wat sy
ontstaan gehad het op 30 September 1944,
waartydens die hoeksteen gelê is. Die skool het 2 jaar later (1946) amptelik
begin funksioneer as ‘n dubbelmedium hoërskool met ‘n leerlingtal van 345 en 15
personeellede onder leiding van die eerste skoolhoof, mnr. B.G. Lindeque, na
wie die skoolsaal ook vernoem is. In 1954 sorg mnr. Charles Grevelink (na
wie die G-gebou vernoem is) dat Hoërskool Florida ‘n skoolwapen kry. Die skoolwapen is deur H. Potgieter
ontwerp, wat ook die reliëfwerke in die
Voortrekkermonument gedoen het. Die arend simboliseer krag, die jukskei
diensbaarheid, die gerwe oes op die arbeid, die skild beskerming en die roos
in die middel herinner aan die liefde, asook aan die nagedagtenis van ons eerste
skoolhoof wat so lief vir rose was. Die arend is geneem van die Transvaalse
wapen en die jukskei uit die ossewa-tydperk.
Dit bind ons aan ons Afrikaner-erfenis.
Dan ons leuse helder-klinkend: “Ons dien getrou”
Die jaar 1955 word ‘n mylpaal in Hoërskool
Florida se geskiedenis - die Afrikaanswording van die skool! Die skool begin met 635 leerlinge en 28
personeel.
Die tweede hoof, dr. H.P. Van Coller
wat in Julie 1954 aangestel is,
het ‘n leeue-aandeel hierin.
Die huidige skoollied ontstaan in 1961,
geskryf en getoonset deur mnr. Bart Viljoen, ‘n onderwyser destyds
verbonde aan die skool, en in 2006 weergalm dieselfde skoollied steeds!
Die derde skoolhoof, mnr P.D.A. Roux, wat
aan die begin van 1968 die tuig opgeneem het, het die skool tot hoë
hoogtes begin lei. Die Musieksentrumvind in hierdie tydperk ook sy ontstaan op
22 Maart 1971, onder leiding van mnre. Botha en Van Wyk. Op 14 Maart 1989 neem ons afskeid van ‘n
groot gees in Hoërskool Florida se geskiedenis
wanneer mnr. Roux aftree.
In 1990 neem ons die eerste
rekenaarsentrum in gebruik en in dieselfde jaar op 26 Januarie, word mnr. H.S. Diederiks
as nuwe hoof aangestel.
In Januarie 1992 word Hoërskool Florida
aangewys as een van die eerste skole aan die Wesrand wat Model-C status verwerf
het.
Die vyfde hoof, mnr. K.S. König, word in
Januarie 1993 aangestel.
Sedert 1994 sien nuwe, opwindende projekte
die lig, nl: ‘n Slypskool vir jong
skrywers, die Bewarings- en
Betrokkenheidsprojek, Entrepreneurskap, ‘n nuwe rekenaarsentrum en vele meer.
In Oktober 1997 betree ons ‘n nuwe fase
met mnr. M.S. Schutte aan bewind.
‘n Derde rekenaarsentrum word in gebruik
geneem, ‘n vierde sentrum vir rekenaartik word in 2000 geopen en op 17 Maart 2001
word die nuwe hotelskool geopen.
Ons streef voortdurend daarna om ons leuse,
“Ons dien getrou,” uit te leef.
|